Tuisblad
Meer oor Emoe olie
Getuienis
Produkte
Emoe Boerdery
Media
Skakels
Kontak ons
FAQ
  English
 

MEDIA

kEmoe skop nes in Suid-Afrika

Boerdery met die Australiese loopvoël, die emoe, is besig om stukrag in Suid-Afrika te kry. Boere wat hierdie bedryf reeds onder die knie gekry het, vertel wat dit alles behels en hoe lonend dit is.

Emoeboerdery is nog in sy kinderskoene in Suid-Afrika en daar word nog net sowat vyf jaar lank met hierdie groot voëls in die land geboer.

Selfs internasionaal is die bedryf nog jonk. Navorsing het in die laat 1980’s aan die lig gebring dit is die samestelling van emoevet wat veroorsaak dat die aborigines, Australië se eerste inwoners, nie rumatiek of jig kry nie. Hul vernaamste bron van proteïen is die emoe se vleis. Hierdie voëls loop wild rond en word deur die inboorlinge gejag. Hulle gebruik ook die vet om kos gaar te maak.

Verdere navorsing het getoon dat die emoevet ’n sogenaamde goeie vet is met onder meer omega 3-, 6-, 7- en 9-vetsure, wat noodsaaklik vir die liggaam is om vitamiene te vervaardig en help om die progressie van ernstige degenerasiesiektes te vertraag. Die vet bevat ook baie vitamiene E. Dit is ryk aan anti-oksidante, anti-inflammatories, anti-bakteries en het versnelde penetrasie vermoë omdat dit geen fosfor bevat nie. Kortom, ’n emoe is propvol heilsaamheid vir die mens.
Die Australiërs het ook vasgestel die inboorlinge kry nie velkanker nie. Dit bring hulle nou in verband met die emoevet, wat aangesmeer word vir brandwonde en seerplekke.

Dit het ’n vraag na emoevet laat ontstaan vir die vervaardiging van salwe waarmee Westerlinge hul eina’s dokter, veral artritis en jig. Ander produkte vir skoonheidsbehandeling het daarop gevolg. Dit het emoeboerdery ’n lekker hupstoot gegee en kort voor lank het boere in verskeie lande met die voëls geboer. Ook Suid-Afrikaners het belang gestel en die eerste kuikens het later hier aangeland.
k
Mev. Pauline Henderson van Rustenburg het eerstehands kennis gemaak met die heilsame emoe-olie. Sy het osteo-artritis en moes met krukke oor die weg kom, maar ná ’n klompie behandelings met die olie kon sy haar krukke weggooi. Sy is nou voorsitter van die Suid-Afrikaanse Emoevereniging.

Mnr. Peter Duncan van Krugersdorp, ondervoorsitter, dien ook op die Amerikaanse Emoevereniging en is een van ses raadslede van die internasionale Emoenavorsingsraad. Hy sorg dus dat SA emoeboere altyd op die hoogte van die jongste navorsing is. Self is hy ’n emoeboer.

Mev. Susan Engelbrecht, die sekretaris, boer ook met die loopvoëls, maar het nou ook by die vervaardiging van emoeprodukte betrokke geraak. Sy koop klaar verwerkte olie by Peter Duncan en vervaardig dan produkte en pille daarvan by ‘n farmaseutiese firma wat in Johannesburg geleë is. Peter Duncan koop plaaslik emoevet en voer dit ook van Australië en Amerika af in.

Die Universiteit van Pretoria het ook betrokke geraak en geld beskikbaar gestel vir navorsing en die ontwikkeling van ’n rantsoen wat vir plaaslike toestande geskik is. Sover voer die plaaslike boere hul emoes volstruisrantsoene, aangesien die rantsoene wat in Amerika en Australië saamgestel is, weens klimaatverskille nie vir SA toestande geskik is nie.Duncan sê danksy die verbetering van rantsoene het die gemiddelde slagouderdom van volstruise in Suid-Afrika al van veertien maande tot elf maande verminder. Die emoeboere poog nou óók om hul emoes se slagouderdom, wat nog veertien maande is, te verlaag. Dit sal ’n groot besparing aan kos teweeg bring en die wins verhoog.

Die universiteit doen sy navorsing by Duncan se boerdery. Hulle maak emoes op verskillende rantsoene groot om die ideale hoeveelheid proteïen en energie in die rantsoen te bepaal. Die proefgroepe voëls word gereeld geweeg.“Ons wil ook poog om wêreldwyd ’n eenvormige standaard vir emoe-olie neer te lê,” sê hy. By die Universiteit van Iowa in Amerika is die VSA Emoevereniging ook besig om ’n protokol vir navorsing met emoevet op mense te skryf.

Duncan het ’n verwerkingsaanleg gebou wat aan internasionale standaarde voldoen om olie uit die emoevet te haal. Die vet moet binne twee ure van ’n karkas verwyder (hoofsaaklik aan die krop en rug) en gevries word om kontak met lug te beperk, wat nadelig is. Hy verwerk sy eie voëls en koop ook vet by ander boere.
Hy smelt die vet in die fabriek en verwerk dit in die algehele afwesigheid van suurstof in ketels. Uiteindelik word die olie twee keer geraffineer voordat dit by die smeermiddels gevoeg word. Hy het by twee geleenthede by soortgelyke fabrieke in Amerika gewerk om ondervinding op te doen.

Hy sê daar is nog groot ruimte vir uitbreiding in Suid-Afrika. “Ons het ’n goeie eindproduk en ek glo nie daar sal gou ’n oorskot in Suid-Afrika wees nie. Ons kan selfs emoe-olie na die buiteland uitvoer, omdat daar oral ’n tekort is,” sê hy.
Die emoe se vleis is ook baie lekker. Dit smaak meer soos rypgemaakte rooivleis as na die volstruis, vertel hulle. Die vleis is 97 % vetvry en verlaag glo cholesterol.
Duncan-hulle produseer nog nie genoeg vleis om voluit te bemark nie. Hul mikpunt is om so gou moontlik honderd voëls per maand te slag en vleissnitte na Europa uit te voer. Daarvoor beplan hulle ’n abattoir in Magaliesburg wat aan die Europese Unie se standaarde voldoen. Hulle verkoop reeds ’n bietjie vleis op Rustenburg.
Die vere het ook ’n nut en word vir vrouemodes gebruik, terwyl die vel gesog vir handsakke, gordels en ander items is.

Daar kom 10 kg tot 14 kg vet van ’n voël wanneer dit op veertien maande geslag word. Daaruit kom so 10 <l> olie, waarvoor kry ’n boer nagenoeg R150/<l> ontvang.

’n Kuiken van een tot twee weke kos sowat R500. Hulle is baie gehard en vrek nie maklik nie. Broeipare kos ongeveer R6 000. ’n Goeie wyfie wat goeie kos kry, lê dertig tot veertig eiers per seisoen (April tot Oktober) as hulle in kampe aangehou word. In veldtoestande lê hulle minder eiers. Hulle begin lê sodra dit begin koud word. Die wyfies maak nie ’n nes nie, maar krap net ’n paar grassies bymekaar en begin eiers lê.

Die mannetjie broei die eiers alleen uit. Hy begin broei wanneer daar tien tot twaalf eiers in die nes is. Na 53 dae kom die eiers uit. In dié tyd staan hy net op om water te drink en oorleef op sy vet. Die mannetjie maak die kuikens ook alleen groot.
Terwyl die mannetjie broei, beweeg die wyfie aan na die volgende mannetjie om bevrug te word. Sy begin dan weer lê en so gaan die proses voort.

Duncan het moderne broeikaste gekoop om die eiers uit te broei, want dit verhoog die uitbroeipersentasie.

Oorsee het emoes reeds siektes opgedoen, maar daar het nog nie emoesiektes in Suid-Afrika uitgebreek nie. Die voëls word gereeld ontwurm en sommige boere behandel hulle ook vir bosluise.

Die emoe het ’n goeie temperament en ’n mens kan tussen hulle beweeg sonder om aangeval te word. Tydens paar- en broeityd is hulle ’n bietjie aggressief met mekaar. Hulle kan baie aggressief raak as hulle in ’n hoek vasgekeer word.
Die Emoevereniging het ’n handleiding oor hierdie boerdery opgestel, wat nou in Afrikaans vertaal word.

Duncan hou streng rekord van sy emoes. Hy plant ’n mikroskyfie in die vel agter elke emoe se kop in, wat besonderhede oor die voël en sy bloedlyne bevat. Die Emoevereniging het verlede jaar 32 kuikens van ‘n nuwe bloedlyn van Nieu-Seeland ingevoer om die genetiese basis te verbreed.

Charl van Rooyen

 

 Terug na Media

© 2010 Emuphoria
Webwerf ontwerp deur
Polar Design Solutions